top of page

Wie is ek?

Solet Scheeres is  'n voltydse skrywer en potsending-maker.

Sy woon in Drunen, Nederland  waar sy vroeër ’n dosent in Engels by die plaaslike hoërskool was.

 

"​As kind het ek in die ou Noord-Transvaal op ‘n plekkie met die naam Alma grootgeword. Die “dorpsbiblioteek” was ‘n kamer aan die kant van ons huis.

Ek het gevolglik enige tyd van die dag of nag vrylik toegang gehad tot die vier vaal kaste vol boeke. Een maal ‘n maand het die provinsiale boekebus al die pad van Nylstroom af gekom om boeke om te ruil.

Dit was elke keer vir my ‘n hoogtepunt om met die trappie in die bus in te klim en al die nuwe boeke te ruik. Om ‘n lang gesprek met mevrou Veldsman, die reisende bibliotekaresse, te voer, wat duidelik dieselfde gevoel vir boeke as ek gehad het. En om as die bus weg is, iewers onder ‘n boom te gaan sit en lees en lees en lees.
Op laerskool was ek dol op Elsabe Steenberg se boeke. Later op universiteit het ek haar somtyds op die kampus gesien, maar ek was altyd te bang/skaam om ‘n gesprek te begin. Blou is ‘n bokkie en Boom, bomer, boomste sal altyd gunstelinge bly!

Ek was ook gek oor Helena Lochner, Hester Heese en C.S. Badenhorst se boeke – onthou jy nog die bloeddorstige Assie? Danda op Oudeur het my aangegryp soos min ander boeke. Ag, daar was so baie wat ek oor en oor gelees het: Jeanetta, die Tessa- en Groenheuwelreekse, Fritz Deelman, die Buiter en natuurlik Die Uile. Keurboslaan en Maasdorp lees ek nou nog gereeld en verlustig my steeds aan die wonderlike doktor Serfontein. 

​

My lewe het tot nou toe interessante draaie gemaak. Ek het ná my studie in Kommunikasiekunde aan die PU vir CHO (Noordwes-Universiteit) ‘n verskeidenheid van werke gedoen en uiteindelik by die SABC opgeëindig. Daarna het ek ‘n tyd lank deeltyds klasgegee in Kommunikasiekunde. Ek het ook ‘n storie-uur vir kinders aangebied.

In 2004 het ons Nederland toe verhuis vir my man se werk en hier sit ons nog steeds!

Ek is dol op boeke en my versamel-manie grens aan die skrikwekkende. Hier in Nederland kry ek ook die geleentheid om die Europese jeuliteratuur van naderby te leer ken en dit gee my weer dieper insig in my eie skryfwerk. Nederlands is ‘n moeilike taal om te skryf en reg te praat. My kinders skaam hulle altyd dood vir hulle ma. Maar die taal dwing ‘n mens om oor Afrikaanse na te dink. Jy sien Afrikaanse spelling en herkoms van woorde weer in ‘n nuwe lig.
Wat ek deesdae lees? Ek lees soveel jeugboeke moontlik en dit is vir my onmoontlik om alles neer te skryf waarvan ek hou."

EKKE.jpeg
Contact

Get in Touch

Thanks for submitting!

© 2022  Solet Scheeres. Proudly created with Wix.com

bottom of page